Search

Amy Jephta wen prys vir nuwe dramateks

8 Oct 2015 - 10:15
Amy Jephta - Photo: Mariana Malan

Amy Jephta  - Photo: Mariana MalanDie moedige ma van die Vlakte koop gesteelde goed van dwelmslawe en verkoop dit weer. Oorlewing is belangriker as die oplos van die dwelmprobleem.

Dít is die gegewe van Amy ­Jephta se wendrama wat die Brecht-drama Mutter Courage und ihre Kinder as uitgangspunt moes hê.

Haar stuk, wat nog nie ’n titel het nie, is uit vyf finaliste in die teksskryf-kompetisie ­gekies om volgende jaar op die Suidoosterfees (SOF) opgevoer te word.

Jephta is geen nuweling­dramaturg nie. Sy het sedert 2009 reeds meer as tien toneelstukke geskryf waarvan verskeie al internasionaal op die planke was. In Londen is haar een­persoonstuk Shoes vanjaar onder regie van Danny Boyle in die Royal Court Theatre met ­James McAvoy opgevoer. In dieselfde teater is All Who Pass as ­voor­geleesde stuk aangebied in ’n ­seisoen van nuwe Suid-Afri­kaanse toneelstukke.

In 2013 is Kitchen genooi na Swede, waar ’n internasionale fees vir vroueskrywers aan­gebied is. Flight Lessons was in Edinburg en Londen te sien.

Plaaslik en meer in die hede word haar stuk Soldaat van 14 Oktober in die Kunstekaap-arena in Kaapstad opgevoer. Sy skryf ook vir die nuwe sepie Suidooster en het die draaiboek geskryf vir ’n nuwe romantiese komedie, Sonskyn Beperk. Dit word tans verfilm en sal ­volgende jaar uitgereik word.

Sy is baie opgewonde oor haar stuk wat op die SOF opgevoer gaan word.

“Ek hou daarvan om vir ’n groot rolverdeling te skryf.

“Daar is nie altyd genoeg geld daarvoor nie. Nou kan ek meer as 10, op tot 16 mense, in die ­rolverdeling hê.”

Sy sien ook baie uit daarna om saam met Tertius Kapp te werk om die stuk af te rond en te ­verfyn.

Hoewel sy ’n meestersgraad in drama van die Universiteit van Kaapstad (UK) het, wou sy nog nooit eintlik op die verhoog wees nie.

“Ek wil liewer my woorde in iemand anders se mond sit. Ek wil skryf en ek wil regie doen.”

Sy loop gedurig met stukkies stories in haar kop rond. “Daar is baie dinge wat ’n idee laat ­vassteek – iets wat ek sien, ’n deel van ’n gesprek, iets wat my aanraak.” Elke gedagte word ­vinnig op haar selfoon vasgelê vir latere gebruik. Sy dink lank oor haar eie werk, maar ­opdragte vloei vinnig.

“Ek werk goed as ek ’n ­sper­datum het.”

Haar groot ideaal is om ’n stuk oor haar mense te skryf.

“Ek wil ’n storie skryf wat my gemeenskap bekend stel. En ek wil hê dit moet op ’n inter­nasionale verhoog kom.”

Saam met al die skryfwerk en regie, gee sy ook klas by die UK-dramadepartement. “Ek skrik nie vir uitdagings nie,” sê sy.

En gemeet aan haar biografie waar haar bedrywighede gelys word, is sy ook nie bang vir harde werk nie. Op 27 kan jy haar nog nie Moeder Moed noem nie, maar beslis moedig en gefokus.